news | the society | sections | centres | publications | astronomy in SAsite map | about

 

 news >nwu-puk descartes prys

Puk-navorsers in HESS wenspan van Descartes Wetenskapsprys
HESS groep deel in prysgeld van €1 miljoen

Geplaas op ASSA webblad: 13 Maart 2007

Vrygestel deur die Mediaskakelbeampte, Afdeling Bemarking en Kommunikasie, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit

Navorsers van die Pukkampus van die NWU is deel van die transnasionale Hoë-energie stereoskopiese sisteem (HESS) navorsingsgroep wat op 7 Maart met die Descartes-prys vir wetenskap in Brussels bekroon is.

Die Europese Kommissie het drie navorsingsprojekte aangewys wat in die prysgeld van ‘n miljoen Euro deel. Die Descartes-prys word in die Europese Unie (EU) as die “Nobel-prys” vir transnasionale wetenskapspanne bestempel.

Die HESS-projek het ‘n omwenteling in bestaande sterrekundige waarnemingstegnieke teweeggebring en die kennis en begrip oor die Melkweg en ander sterrestelsels verbreed.

Die Hydrosol-projek het ‘n metode ontwikkel om sonenergie te gebruik om waterstof te vervaardig deur middel van watersplitsing. Die voordeel hiervan is dat waterstof op ‘n omgewingsvriendelike wyse vir energiedoeleindes aangewend kan word.

Die derde projek, Apoptosis, het gesorg vir reuse vooruitgang in ons begrip van hoe selle vergaan of sterf. Dit kan tot nuwe ontwikkelings in die behandeling van kanker en vigs lei.

Die HESS-groep, wat bestaan uit sowat 100 navorsers van Duitsland, Frankryk, Tsjeggiese Republiek, Verenigde Koningryk, Pole, Ierland en Armenië, asook Suid-Afrika en Namibië, is in die kategorie vir basiese wetenskappe vir die projek, ’n Nuwe blik op die hoogste-energie heelal, benoem. HESS bestaan uit vier gammastraalteleskope in Namibië wat die afgelope paar jaar reeds revolusionêre ontdekkings oor gammastrale vanuit die heelal gemaak.

Die Descartes-prys is in 2000 ingestel en gee erkenning aan navorsingspanne vir uitstaande wetenskaplike of tegnologiese resultate wat deur transnasionale navorsing behaal word.

Vanjaar se wenners is uit dertien nominasies wat almal baanbrekerswerk gedoen het, gekies. Die dertien is weer uit 66 inskrywings aangewys. Die prys is deur ‘n paneel aangewys wat deur die voormalige Franse minister vir Europese Unie-sake, asook ‘n ruimtevaarder, me. Claudie Haigneré, gelei is. Die paneel het verder uit 22 uitnemende wetenskaplikes van elf EU-lande bestaan.

Die projekleier van die Suid-Afrikaanse HESS-groep, prof. Okkie de Jager, sê dit is ‘n besondere groot eer om die prys te wen. “Die prys bewys dat dit moontlik is vir Suid-Afrikaanse wetenskapspanne om op topvlak met die res van die wêreld te kompeteer.

Hy sê dit het egter ongelooflike harde werk vereis om te verseker dat die tempo van die standaard van HESS behoue bly.

De Jager meen omdat hulle effektief in die skoene van mense soos Galileo Galilei kon staan, het hulle ’n nuwe orde in die multigolflengte-landskap van die heelal blootgelê. “Dit beteken dus dat ons ’n nuwe venster op die heelal geopen het.”

Die Puk-span neem ook deel aan waarnemings in Namibië, asook die analise en interpretasie van data en die uiteindelike publisering van verskeie nuwe ontdekkings.

Die meeste van die patente wat deel vorm van die inskrywing vir die Descastes-prys kom uit die geledere van die Pukke. Drie van die vier patente wat uit die HESS-navorsing gevloei het, behoort aan die NWU.

Spanne van Duitsland en Frankryk het die teleskope gebou en die mannekrag voorsien om ’n sukses van die instrument te maak. Die navorsers van die NWU-Puk het lank voor die oprigting van HESS reeds sekere voorspellings gemaak wat met die teleskope bevestig is. Verder het hulle ook ’n bydrae tot die resultate van die ontdekkings gemaak.

Suid-Afrika – deur middel van die Departement Wetenskap en Tegnologie, dra by tot die salaris van die HESS.-ingenieur in Namibië, asook die bedryfskoste van die projek.

Foto: Die HESS-navorsingsgroep van die Pukkampus is (agter) prof. Okkie de Jager, mnre. Mathew Holleran, Christo Venter en dr. Ingo Buesching. Voor sit prof. Christo Raubenheimer. Op die inlas is mnr. Isak Davids.



 

 

news | the society | sections | centres | publications | astronomy in SAsite map | about

(c) ASSA 2003, 2004  • webmaster hettlage@saao.ac.za. updated 2005.02.24