news | the society | sections | centres | publications | astronomy in SAsite map | about

 

 news > Sonsverduistering - 29 Maart 2006

 

Sonsverduistering - 29 Maart 2006

Magda Streicher


Die Son, Maan en Aarde se dans teen die hemelruim bring die wonder van 'n totale sonsverduistering as 'n ongelooflike geskenk aan die mensdom op aarde. So 'n gebeurtenis op enige gegewe plek op aarde vind ongeveer elke 18 maande plaas. Die totale verduisteringsfase wissel in tydsduur van 1 tot 7 minute, en 'n skadu kol van bykans 70 tot en met 180 km breed. Die kanse is egter skaars dat dit in een leeftyd in dieselfde omgewing sal plaasvind, alhoewel sekere dele op aarde wel meer as een maal met die skadulyn gekruis kan word. Gesien dat die aarde boonop nog uit 70% water bestaan, kan met sekerheid gesê word dat dit 'n rare gebeurtenis is. Daar is dus net een uitweg om 'n totale sonsverduistering waar te neem en dit is tasse pak en gaan! Daar is 'n gesegde, jy het nie die opera gesien as jy buite die deur bly staan het nie. Net wanneer jy onder die skadu kol van die maan staan wat teen sowat 1 000 km per sekonde oor die aarde se oppervlakte beweeg kan die totaliteit van Son en Maan in volle glorie beskou word.

Istanbul was koud en nat, boonop nog bewolk ook. Tussen ons paar sterrekundiges het 'n gevoel van angs vorm aangeneem, bewolkte omstandighede kan die lange tog kelder en neem die totale beeld weg. Die omstandighede ten spyt, dit sou veel meer vat om ons opgewondenheid te blus! Die pragtige kus dorpie Antalay waar die verduistering 1uur die middag van 29 Maart sal plaas vind, is geleë teen die Suid Wes kus van Turkye. Met aankoms was dit sonnig en die goeie weer gunstig. Oral heers 'n gevoel van afwagting in die antieke Romeinse omgewing.

Nadat die Maan reeds 'n goeie hap Son weg gekap het, kon geprojekteerde half maan skadu's onder die takke op die grond waargeneem word. Tussen bossies en 'n grondpad en ook 'n oop sig na die weste het ons vesting ingeneem. Die son het nog vel geskyn oor die landskap en Manavgat, 'n klein dorpie geleë skuins voor ons aan die kus. Met net 10 minute om te gaan voordat die Maan in sy totaliteit voor die son inskuif het die landskap 'n onwerklike gerookte grys lug ontwikkel, en 'n koue windjie het begin waai. Die sterk skemerte was gevul met voël gesang en 'n Turkse hoederhaan het van hom laat hoor. Die donker skadu het plat teen die weste op die horison verskyn en vinnig tot 'n hewige donderstorm ontwikkel; sonder wolke natuurlik! Die skadu wat 170 km groot was het ons in 'n oogwink toegevou wat 4 minute geduur het. In die baie sterk skemer was die Son en Maan 'n eenheid met 'n strale krans wat sliert-punte uitgesprei het teen die donker hemel. Teen die horison skyn 'n rooi gloed soos met 'n sonsondergang, maar reg bokant ons was dit donker. Die planeet Venus was duidelik sigbaar op 'n baie ongewone plek. Die eens besige dorpie onder in die vlei was nou stil, net sy straat liggies het hom uitgewys. Verbasend was daar nog 'n paar karre wat verby gery het. Son vlamme lek tussen die maan kraters deur tot die eerste sonstraal deur 'n krater breek om 'n wonder diamant ring effek te vertoon wat dan ook die einde van dié natuurwonder aandui. Nou kom die groot gesels en word elke faset haarfyn bespreek. Later het nie een in die groep eens agterkom dat die hemel sy wolke vol uitgepak het nie. Die tog terug word in die reën aangedurf na Istanbul vir die vlug terug na Suid-Afrika. In bepeinsing herleef ek weer die Son en Maan se verduisteringsdans, nie net 'n natuur wonder nie, maar ook 'n voorreg.

 

 

 

news | the society | sections | centres | publications | astronomy in SAsite map | about

(c) ASSA 2003-2006 - updated 2006_04